Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG16 MEI 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit treurig dat aangekondig moet word dat die sleutels van twee welbekende Suid-Afrikaanse radioamateurs, nl. Norbert Taferner, ZS6ANL en sy eggenote Paula en Anton Matthee, ZS6A, in die tragiese vliegtuigongeluk in Tripoli stil geraak het.

Norbert was verbonde aan die Afdeling Burgerlugvaart wat omsien na veiligheid in die lug en dit is ironies dat sy lewe in ’n vliegtuigongeluk tot ’n einde moes kom. Sovęr bekend laat hy ’n seun na.

Norman Merrifield, ZS6NKM, is op Saterdag 8 Mei 2010 oorlede na ’n pynlike stryd met kanker.

Anton word deur sy eggenote Ilse en twee dogters Inge en Anja oorleef.

Ons innige meegevoel gaan aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL- KOMPETISIES – U INSET WORD BENODIG

BHF-INDABA – U WORD UITGENOOI

SPESIALE LISENSIEREEëLINGS VIR WĘRELDBEKERBESOEKERS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL- KOMPETISIES – U INSET WORD BENODIG

Geoffrey Levey ,ZS6GRL, is aangestel as die SARL se Kompetisiebestuurder. Hy het aan homself die taak gestel om die deelname aan alle kompetisies te laat toeneem sodat hulle weereens populęre geleenthede op die kalender sal wees. “Ek weet nie wat die volledige redes is waarom deelname of belangstelling in kompetisies afgeneem het nie, maar ons het nou die geleentheid op die situasie reg te stel,” het hy gesę. “Ek is gereed om veranderinge aan die reëls soos byv. puntetoekenning ens. aan te bring ten einde die indiening van logstate te vergemaklik, maar daarvoor benodig ek u insette.”

Hy het gesę dat hy bewus is van bromgeluide oor van die kompetisies oor reëls wat verander het, puntetellings wat moeilik is om te bereken en ’n aantal ander klagtes. “Indien daar in die verlede probleme was tussen die SARL en verskeie klubs of individue wat skeiding veroorsaak het, laat ons dit alles agter ons plaas en kyk of ons met nuwe idees vorentoe kan beweeg.”

Hy het ook gesę dat hy daarvan bewus is dat dit te lank neem om die uitslae van kompetisies aan te kondig en dat hy beplan om die toestand te verander. “Ek glo dat uitslae binne 12 dae na die sluitingsdatum vir die insending van logstate, om vir insendings per pos toe te laat, aangekondig moet word. Indien sertifikate of pryse toegeken word, moet dit ook kort daarna versend word.”

Dit is nou u geleentheid. Indien u betrokke wil raak by die beplanning van kompetisies, of indien u positiewe voorstelle het, stuur asb. ’n e-pos vir Geoff na contest@sarl.org.za. Onthou dit is die plan om die Konsepuitgawe van die “blou boek” vir kompetisies vir 2011 teen die einde van Augustus 2010 gereed te hę.

Luister vanoggend op die SARL se program Amateur Radio Mirror International na ’n onderhoud met Geoff, of laai dit van die webwerf af vir gebruik in u klubbulletin.

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE IN DURBAN – MOET DIT NIE MISLOOP NIE

Volle besonderhede van die Durbanse RTA-program is nou beskikbaar op www.sarl.org.za. Die aktiwiteit sal op Saterdag 29 Mei 2010 by die Universiteit van KwaZulu-Natal plaasvind. Leer met Multisource meer oor D-Star. Vind uit hoe om oudio van jou HF-radio met ’n DSP-boustel te verbeter en hoe om betrokke te raak in ’n eenvoudige radiorigtingpeilingstelsel om aan ’n ARDF-aktiwiteit deel te neem.

Daar is aantreklike bywoningspryse wat deur RS Components en andere geborg word.

Die bywoningskoste beloop R50 per persoon wat ’n ligte middagete insluit. Studente en skoliere betaal slegs R20.

BHF/UHF/MIKROGOLF-INDABA – U WORD UITGENOOI

Die SARL bied ’n BHF/UHF/MIKROGOLF-indaba op Saterdag 26 Junie 2010 om 12:00 vir 13:00 by die Nasionale Amateurradiosentrum aan. Die agenda sluit besprekings aangaande BHF/UHF-bedryf, kompetisies en kompetisiereëls in. Bywoning is gratis, verversings sal aangebied word en deelnemers sal deelneem aan ’n gelukkige trekking vir ’n ARRL-antennahandboek en gratis programmatuur.

Klubs word versoek omhul aktiwiteit en kompetisiedeelname in die spektrum bokant 30 MHz tydens hulle klubvergaderings te bespreek en hulle afgevaardigdes na die indaba goed toe te lig om hulle voorstelle by die indaba vir bespreking voor te lę. Klubs wat nie in staat is om afgevaardigdes te stuur nie, word versoek om hulle voorstelle per e-pos te stuur aan contest@sarl.org.za. Ten einde reëlings te vergemaklik bevestig asb. bywoning teen 21 Junie ook aan contest@sarl.org.za.

U word uitgenooi om na afloop van die indaba op eie koste by ’n informele ete by ’n nabygeleë restaurant aan te sluit.

’n Integnet word beplan vir Sondag 18 Julie 2010 om 19:30 om terugvoering te gee en planne te bespreek wat op ’n nasionale vlak geformuleer is.

SPESIALE LISENSIEREEëLINGS VIR WĘRELDBEKERBESOEKERS

Besoekers aan Suid-Afrika gedurende die tyd van die węreldbeker mag amateurradio bedryf deur van die voorvoegsel ZS10 voor hulle eie roepsein gebruik te maak soos byv. ZS10/G3XYZ.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga het ’n ooreenkoms met die Onafhanklike Kommunikasieowerheid aangegaan ten einde alle gelisensieerde radioamateurs, wat Suid-Afrika gedurende Junie en Julie besoek, toe te laat om amateurradio te bedryf op voorwaarde dat hulle voor hulle aankoms in Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse Radioliga registreer. Volle besonderhede en ’n registrasievorm kan gevind word by www.sarl.org.za.

NASIONALE RAE EERSKOMENDE DONDERDAG 20 Mei 2010

Die nasionale RAE vind eerskomende Donderdag 20 Mei 2010 om 19:00 landwyd in verskeie sentrums plaas. Daar is ’n rekord inskrywing van 152 kandidate. Die SARL vertrou dat dit voorspoedig sal gaan met al die kandidate wat die eksamen gaan aflę. Moenie deur die eksamenvraestel jaag nie, daar is voldoende tyd toegelaat. Maak dubbel seker van u antwoord voordat u die finale keuse doen.

Die Klas B kandidate word daaraan herinner dat daar nou 50 vrae is om te beantwoord. Dit was by die SARL se nasionale konvensie verlede maand in Port Elizabeth aangekondig. Die toegelate tyd van 60 minute is steeds voldoende om die eksamen in te voltooi.

KOMPETISIENUUS

DRIE URE NAELLOOP OM DIE 85STE HERDENKING VAN DIE SARL TE VIER

Vanmiddag, 4 dae voor die werklike dag, sal 'n drie uur lange naelloopkompetisie die stigting van die SARL op 20 Mei 1925, 85 jaar gelede, herdenk. Die spesiale roepsein, ZS85SARL, sal ook vir die eerste keer tydens die kompetisie gebruik word. ZS85SARL sal op 80 en 40 meter foon wees vanuit Die Paarl waar dit bedryf word deur die Boland Amateurradioklub. Op 20 m foon sal ZS85SARL uit Bloemfontein op die lug wees. Die roepsein sal ook op gelykgolf aktief wees waar dit bedien gaan word deur die bekwame sleutel van Vidi, ZS1EL, uit Somerset-Wes.

Die Naelloop sal vanaf 12:00 tot 15:00 UTC (14:00 tot 17:00 SAT) gehou word. Daar is baie pryse om te wen vir individuele prestasies, asook 'n gelukkige trekking vir 'n ARRL Handboek vir alle logs met meer as 10 kontakte in. Daar is 'n ARRL Handboek vir die deelnemer onder 18 met die hoogste telling op die dag van die kompetisie.

'n Spesiale 85ste Herdenking QSL-kaart sal ook beskikbaar wees vir stasies wat ZS85SARL werk.

Kompetisie-uitslae

Die Kompetisiekomitee het vyftien logs en een kontrolelog ontvang vir die SARL Hamnet 40 meter Gesimuleerde Noodkompetisie. Die wenners is soos volg:

Enkeloperateur, Stilstaande mobiel - Geoff Levey, ZS6GRL;
Enkeloperateur, Draagbaar - Pierre van Deventer, ZS6BB;
Multi-operateur, Draagbaar - 7P8BHF [Andries Visage, ZS6VL, en Michael Roodt, ZS6BHF]
Enkeloperateur, Basisstasie - Jan Botha, ZS4JAN.

Die Kompetisiekomitee het vier logs ontvang vir die eerste skof van die SARL se BHF/UHF-analoogkompetisie ontvang.

Multi-operateurstasie.
1ste Pretoria ARK, ZS6PTA, 70 430 punte;
2de John Vorster Tegnologiese Hoërskool ARK, ZS6JVT, 2 264 punte.

Enkel Operateur Stasie
1ste Carl Minne, ZS6CBQ, 12 440 punte;
2de Philip Venter, ZS4PV, 2 561 punte.

Die Kompetisiekomitee het ses logs ontvang vir die eerste skof van die SARL 80 Meter QSO-Geselligheid, daar was 69 deelnemers.

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 655 punte;
2de Phillip Esterhuizen, ZS4PJ, 645 punte;
3de Theunis Potgieter, ZS2EC, 495 punte.

Die volledige uitslae is gepubliseer in SARL HF Happenings 405, wat op www.sarl.org.za asook per e-pos beskikbaar is.

KLUBNUUS

’n Belangrike snuffelmark vir radioamateurs vind op 5 Junie 2010 om 10:30 by die ZERABI onthaalsentrum, geleë direk langs die hoofweg ongeveer halfpad tussen Klerksdorp en Potchefstroom, plaas.

Gaan en verkoop u goed, toegang is gratis en geen fooie word op verkopings gehef nie.

Braaifasiliteite, braaipakke, worsbroodjies, verversings en ’n kontantkroeg is beskikbaar; ook oorslaapfasiliteite. Gaan geniet uself.

Vir navrae skakel Stef, ZS6AOK, by 082 773 5297.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Daar is nog steeds geen sonvlekke sigbaar nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan tussen minder as 10 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Ook gaan kontakte met die VSA uitdagend wees. Smiddags en vroegaand gaan toestande op 15 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan goed wees vir vanmiddag se SARL-wedstryd. Vroegmiddag gaan 20 m die beste resultate oor die langer afstande lewer. Later die middag gaan 40 m die beste keuse wees gevolg deur 80 m wat laatmiddag sy kant gaan bring.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
16 Mei – SARL se 85ste Herdenkingsnaelloop, 12:00-15:00 UTC;
20 Mei – RAE landwyd om 19:00;
21 Mei – ZS6RSW en oud-Duffweggers se byeenkoms om 12:30 by Nino’s;
22 Mei – Spesiale stasie ZS85SARL vanaf Ysterplaat op die lug;
29 Mei - RTA-simposium in Durban;
5 Junie – Snuffelmark op 5 Junie 2010 om 10:30 by die ZERABI onthaalsentrum, halfpad tussen Klerksdorp en Potchefstroom;
26 Junie – BHF-indaba by die NARS beginnende om 12:00;
18 Julie – Integnet om 19:30 oor BHF/UHF/MIKROGOLF-aangeleenthede;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September – sluitingsdatum vir fase 1 van die innovasieprojek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
Dankie dat u saamgeluister het.

73, tot volgende Sondag.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003